Die Pos skryf sedert die begin van die grendeltyd oor verskeie onwettige grondgrype in die Waterberg. Dié foto toon hoe die sinkhuise in die Koppewaai-gebied, langs die Alma-pad buite Bela-Bela, toegeneem het. Die sinkstrukture is op privaat grond, wat aan die sakeman Steve Bosch van Polokwane behoort, opgerig. Die Bela-Bela-munisipaliteit het ’n hofbevel bekom om besetting op munisipale grond (aangrensend aan die Tuin Tuiste-aftreeoord en die gedeelte oorkant die pad wat tot teenaan die Renaissance-aftreeoord strek) te verhoed. Ingevolge dié bevel sal mense wat daar plak, met die hulp van die polisie en balju verwyder word. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê die munisipaliteit ondersoek bewerings van plakkery op hul grond.
’n Inwoner van Bela-Bela het op Vrydag 10 Julie twee visstokke in hul beskermende sakke langs die Alma-pad, ongeveer 2,5 km buite die dorp, opgetel. Die eienaar kan dit by Die Pos se kantoor in Bela-Bela afhaal.
Die Pos word weekliks by meer as 100 verskillende plekke in die Waterberg afgelewer — van groot supermarkte wat honderde uitgawes verkoop tot klein padstalletjies wat net 10 koerante per week verkoop. Ons sê vandag dankie aan al dié mense wat ons help om die nuus by die lesers te kry. Op die foto is Rika van der Schyff (regs), wat al 22 jaar Die Pos in Modimolle aflewer, saam met Willie Doyer, bestuurder van Maroela Kafee. Maroela Kafee is een van die plekke waar koerantverkope nou bykans weekliks toeneem. Ondersteun hulle gerus en onthou — gooi sommer Die Pos ook saam in die mandjie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.